top of page

Wisseldocentschap Zuid-Afrika

Dr Agnes Andeweg (Universiteit Utrecht) het op Saterdag 4 Oktober 2025 ’n gaslesing getiteld “Koloniale sporen van de Vliegende Hollander” by SASNEV in Pinelands gegee, waarna sy met dr Alfred Schaffer (Universiteit Stellenbosch) in gesprek was. Die lesing kan op SASNEV se YouTube-kanaal gekyk word.

​

Dr Agnes Andeweg in gesprek met dr Alfred Schaffer op 4 Oktober 2025 by SASNEV in Pinelands. (Foto: Marni Bonthuys)

Dr Agnes Andeweg (Universiteit Utrecht) het in 2025 die wisselleerstoel vir Neerlandistiek in Suider-Afrika beklee. Sy het aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die Universiteit Kaapstad en die Universiteit Stellenbosch aan voor- en nagraadse studente Nederlands gegee.

​

Dr Agnes Andeweg, medeprofessor in literatuur aan die Universiteit Utrecht, beklee die Wisselleerstoel Nederlands vir 2025 en is by drie Wes-Kaapse Universiteite – die Universiteit Kaapstad, die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Wes-Kaapland – werksaam.

​

Sy bring een dag per week op elke kampus deur en bespreek ’n uiteenlopende reeks skrywers uit Nederland, België en Suriname. Haar voor- en nagraadse lesings dek werk van Henrik Marsman, Gerrit Komrij, Sholeh Rezazadeh, Yasmin Namavar, Raoul de Jong, Anton de Kom, Babs Gons en Simone Atangana Bekono. Die werk van hierdie skrywers en nog vele meer word uit primêr met ’n postkoloniale inslag benader.
Terugvoer van die studente van die Universiteit Stellenbosch is merkbaar positief. Studente waardeer die verskeidenheid tekste en die goeie struktuur van die kursus en vind die inhoud “boeiend”, “insiggewend” en “baie verrykend en interessant”, al is gesproke Nederlands vir sommige van hulle ’n uitdaging. Enkele studente het uitgelig dat hulle by addisionele Nederlandse taalverwerwing sal baat, nie net om hulle begrip van Nederlandse tekste te verbeter nie, maar ook om hulle spraak- en luistervaardighede te verskerp, met een student wat selfs mondelinge in Nederlands oor die novelles versoek het.


Waaroor al die studente dit eens is, is dat dr Andeweg klasgesprek en interaksie aangemoedig het en dat hulle dit ervaar het dat sy “geïnteresseerd in ons opinies” is. Haar entoesiasme en passie – die woorde wat die meeste gebruik is om haar en haar benadering tot die lesings te beskryf – vir haar vakgebied het studente se belangstelling in die werk van Nederlandstalige skrywers en in Nederlands as taal versterk. En haar gebruik van video’s en Kahoot! tydens lesings het studente gehelp om hulle fokus te behou.


Die kollegas van die betrokke departemente wil hulle dank teenoor die Nederlandse ambassade en die Vlaamse Verteenwoordiging vir hulle befondsing van die Wisselleerstoel sowel as die Nederlandse Taalunie en die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek vir hulle logistieke steun uitdruk. Dr Andeweg se teenwoordigheid en omgang met haar vakgebied het vir hulle en hulle studente geweldige verryking gebring.

​

Die betrokke departemente spreek graag hulle dank uit aan die organiseerders vir die geleentheid om hierdie kenner van die Nederlandse letterkunde vir die volgende semester in hulle departemente as kollega te verwelkom.

​

Me Lenelle Foster, Universiteit Stellenbosch

​

Dr Agnes Andeweg saam met van haar voor- en nagraadse studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit Stellenbosch. (Foto’s: Marni Bonthuys, Sonja Loots, Hanlie Theron en Lenelle Foster)

Dr Agnes Andeweg (Universiteit Utrecht) beklee sedert 28 Julie 2025 die wisselleerstoel vir Neerlandistiek in Suider-Afrika. Sy gee aan die Universiteit van Wes-Kaapland, die Universiteit Kaapstad en die Universiteit Stellenbosch aan voor- en nagraadse studente Nederlands.

​

Dr Agnes Andeweg, medeprofessor in literatuur aan die Universiteit Utrecht, is as Wisselleerstoelhouer Nederlands vir 2025 aangestel. Hierdie inisiatief bestaan sedert 2022 en word onder meer befonds deur die Nederlandse ambassade, die Vlaamse Verteenwoordiging en georganiseer in samewerking met die Taalunie en Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek. Dr Andweg sal vanjaar les gee by die Kaapse universiteite waar Nederlands as vak binne departemente Afrikaans en Nederlands aangebied word, naamlik die Universiteit van Wes-Kaapland, die Universiteit Kaapstad en die Universiteit Stellenbosch. Sy bied dieselfde lesplan by al drie universiteite aan en is verskillende dae van die week op verskillende kampusse werksaam. Dié lesplan is saamgestel in lyn met dr Andeweg se eie spesialisasie asook die betrokke departemente se insette. Dit fokus op Nederlands in ’n meertalige, internasionale konteks. Veral tekste met ’n postkoloniale invalshoek word betrek, onder meer Nederlandse letterkunde uit Nederland, België en Suriname. Daar word voorts verwys na Nederlandse tekste uit die destydse Nederlands-Indiese kolonie asook die die werk van talle huidige Nederlandse (Europese) skrywers met uiteenlopende etnisiteite. Uiteindelik word beoog om hiermee aan studente te toon watter gevarieerde agtergronde en invloede die Nederlands letterkunde gevorm het en waarom Nederlands vandag nog as ’n wêreldtaal beskou kan word.

​

Die betrokke departemente spreek graag hulle dank uit aan die organiseerders vir die geleentheid om hierdie kenner van die Nederlandse letterkunde vir die volgende semester in hulle departemente as kollega te verwelkom.

​

Dr Marni Bonthuys, Universiteit van Wes-Kaapland

​

Dr Agnes Andeweg maak gereed vir ’n lesing aan die Universiteit van Wes-Kaapland (Bellville) op 31 Julie 2025. (Foto: Marni Bonthuys)

480px-2023_Facebook_icon.svg.png

© 2025 SAVN

bottom of page