top of page

Nuus en gebeure

Op hierdie blad word nuus uit die Suid-Afrikaanse Neerlandistiekgemeenskap gedeel, en ook terugvoer gegee oor 'n verskeidenheid Neerlandistiek-aktiwiteite.

Neerlandistiekdag 2026 en Alfred Schaffer-erelesing

Vanjaar word die KFN se Neerlandistiekdag saam met die SAVN se Alfred Schaffer-erelesing by SASNEV in Pinelands gehou op Saterdag 19 September. Die program begin om 10:00 met die erelesing deur prof Marius Crous. Daarna volg ’n gesprek met een van die bekendste Nederlandstalige digters: Mustafa Stitou. Ter afsluiting sal daar ’n voorlesing van gedigte deur Marius Crous, Mustafa Stitou en Naidene Lottering wees.

​Die program word ook regstreeks deur SASNEV op YouTube gebeeldsend by https://www.youtube.com/@studiosasnev2569/streams.

RSVP aan info@sasnev.co.za.

Marius Crous is professor in die departement Tale en Letterkunde aan die Nelson Mandela Universiteit. Hy doseer letterkunde en kreatiewe skryfkunde. Vier digbundels het uit sy pen verskyn en hy hoop op ’n vyfde. Hy was ook die samesteller van die opstelbundel oor die werk van Marlene van Niekerk getitel Die tempteerbare oog.

Hy dien as sameroeper van die komitee wat die Ingrid Jonker-prys vir debuutwerk in Afrikaans en Engels toeken en is ook lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Letterkundekommissie.

Hy het doktorsgrade in sowel Afrikaans en Nederlands as Engels en was al werksaam aan die universiteite van KwaZulu-Natal en Namibië asook in die Hansard-afdeling van die Suid-Afrikaanse parlement.

© Frank Ruiter

Mustafa Stitou (Tétouan, Marokko, 1974) is een van die bekendste Nederlandstalige digters. Hy het in Lelystad, Nederland, grootgeword en studeer midde jare negentig Geskiedenis en Filosofie aan die Universiteit van Amsterdam. In 1994 debuteer hy met die digbundel Mijn vormen, wat op die kortlys van die C. Buddingh’-prys vir die beste poësiedebuut verskyn. Hierna volg Mijn gedichten (1998) en Varkensroze ansichten (2003), wat onder andere bekroon word met die VSB Poësieprys vir die beste Nederlandstalige digbundel en die Jan Campertprys. In 2013 verskyn Tempel, bekroon met die Awater Poësieprys. In 2018 ontvang Stitou die gesogte A. Roland Holst-prys vir sy werk. In 2022 verskyn sy tot op hede laaste bundel, Waar is het lam?, ’n intrigerende versameling gedigte oor die betekenis van die offer. Dié bundel word bekroon met die groot Johan Polak Poësieprys. Stitou se werk is onder andere vertaal in Sweeds en Engels. Van 2009 tot 2010 was hy Stadsdigter van Amsterdam. 

Naidene Lottering is 'n Suid-Afrikaanse digter, woordkunstenaar, opvoeder en performance-kunstenaar wie se kreatiewe praktyke diep wortels in die linguistiese, kulturele en historiese realiteite van die Kaapse Vlakte het. Sy voltooi haar BEd en NOS aan die KPUT en is tans besig met 'n MA in Kreatiewe Skryfkunde aan die Rhodes Universiteit in Makhanda.

Haar werk het al in publikasies soos In woorde gebaar en Ons klyntji verskyn en sy het ook verskeie optredes by kunstefeeste op haar kerfstok. Verder was sy in 2025 deel van die Jakes Gerwel-stigting se Brussel to Karoo-skrywersresidensie in KwaNojoli.

Sy werk tans aan haar debuutbundel.

480px-2023_Facebook_icon.svg.png

© 2026 SAVN

bottom of page