top of page

SAVN-Statuut

STATUUT VAN DIE SUIDER-AFRIKAANSE VERENIGING VIR NEERLANDISTIEK

 

 

1. NAAM

 

Die naam van die vereniging is die SUIDER-AFRIKAANSE VERENIGING VIR NEERLANDISTIEK (afkorting SAVN).

 

 

2. DOELSTELLINGS

 

Die doelstellings van die SAVN is die volgende:

 

2.1 Die bevordering van die studie van die Nederlandse taal- en letterkunde, ook in sy verhouding met die Afrikaanse taal- en letterkunde;

 

2.2 Die bewerkstelliging van kontak en samewerking met belanghebbendes in Suider-Afrika en elders wat die studie van die Neerlandistiek in die breë bevorder;

 

2.3 Die bevordering van kontak met en uitwisseling van dosente en studente in die Neerlandistiek wêreldwyd;

 

2.4 Die bevordering van noue kontak met die Nederlandse Taalunie, die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek en verwante instellings.

 

3. WERKSAAMHEDE

 

Die aktiwiteite van die SAVN, gesubsidieer deur die Nederlandse Taalunie, is:

 

3.1 Die gereelde publikasie van die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans;

 

3.2 Die gereelde aanbied van Neerlandistiekkongresse in samewerking met Suider-Afrikaanse inrigtings vir hoër onderwys;

 

3.3 Die periodieke publikasie van ’n nuusbrief;

 

3.4 Die bestuur en beheer van werkswinkels en slypskole vir dosente en studente in die Neerlandistiek;

 

3.5 Die koördinering en toedeling van fondse vir binnelandse gasdosentskappe in die Neerlandistiek;

 

4. WETLIKE MAATREËLS EN VEREISTES

 

4.1 Die SAVN sal in sy eie naam en in eie reg bestaan, afsonderlik van sy lede, en sal bly voortbestaan ongeag veranderinge ten opsigte van sy lede, sy bestuur en/of sy ampsdraers. Die SAVN sal die magte hê om bates te besit en om regsgedinge in te stel vir die verhaal van bedrae verskuldig aan die SAVN of om die nakom van verpligtinge ten gunste van die SAVN af te dwing; so ook om enige regsgeding wat teen die SAVN ingestel word, te verdedig;

 

4.2 Die kapitaal en inkomste word hoofsaaklik verkry uit fondse wat aan die SAVN geskenk word deur die Nederlandse Taalunie en die belegging van sulke fondse. Beperkte inkomste word verkry uit ledegelde;

 

4.3 Indien daar nie langer aan die doelstellings van die SAVN uitvoering gegee kan word nie sal die aktiewe, stemgeregtigde lede teenwoordig by ’n spesiale vergadering, met ’n meerderheid van twee-derdes ’n besluit neem dat die SAVN ophou om te bestaan. Aan hierdie besluit sal deur die bestuur uitvoering gegee word nadat alle verskuldigde bedrae deur die SAVN vereffen is. Nadat dit afgehandel is en indien daar nog enige oorblywende bates of fondse is, sal sodanige bates of fondse nie aan enige lid of lede van die SAVN betaal word nie, maar moet die oorblywende kapitaal en onbestede inkomste gaan aan ’n organisasie(s) of instansie(s) wat deur die Nederlandse Taalunie aangewys word, mits hierdie organisasie(s) of instansie(s) belastingvrye goedkeuring ingevolge artikel 20 van die Inkomstebelastingwet 58 van 1962 geniet.

 

 

5. LIDMAATSKAP

 

5.1 Lidmaatskap van die SAVN is oop vir alle belangstellendes aan tersiêre instellings in die binne- en buiteland, asook vir enige lid van die publiek wat ’n belangstelling het in die Neerlandistiek. Ingeskrewe studente mag teen ’n verminderde bedrag lid word;

 

5.2 Ledegeld word deur die bestuur vasgestel en die bestuur mag ledegeld periodiek hersien. Die reg van ’n lid om te stem by ’n algemene ledevergadering verval indien ledegeld nie op datum betaal is nie.

 

 

6. ORGANISASIE EN BESTUUR

 

6.1 ’n Algemene ledevergadering word elke drie jaar gehou op ’n datum wat saamval met die Neerlandistiekkongres. Ledevergaderings vind plaas met ten minste 14 dae kennisgewing. Behoorlike agendas sal by sulke vergaderings dien en volledige notules sal van vergaderings gehou en by volgende vergaderings goedgekeur en onderteken word;

 

6.2 Die bestuur van vyf lede word tydens ’n algemene ledevergadering gekies, die voorsitter afsonderlik. Die bestuur wys uit sy lede ’n ondervoorsitter, sekretaris en penningmeester aan. Met uitsondering van die voorsitter en ondervoorsitter, mag een of (maksimim) twee geskikte bestuurslede alternatiewelik gekoöpteer word. Die voorsitter en ondervoorsitter sal vir drie jaar optree. Beide die voorsitter en ondervoorsitter mag herkies word. Die redakteur van die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans woon vergaderings (ex officio) by. Die bestuur bevestig driejaarliks die redakteur se aanstelling;

 

6.3 Stemming by vergaderings vind plaas deur die opsteek van hande, tensy voor die stemming op stembriewe besluit word. By ’n staking van stemme het die voorsitter die beslissende stem. Alle besluite wat met ’n meerderheid van twee-derdes aanvaar word deur die aktiewe, stemgeregtigde lede wat by die vergadering teenwoordig is, sal van krag wees;

 

6.4 Die bestuur het die mag om instansies en/of persone te koöpteer;

 

6.5 Bestuurslede ontvang geen besoldiging nie, behalwe redelike vergoeding vir 3 reis- en verblyfkoste om vergaderings van die SAVN by te woon. Geen oormatige vergoeding sal aan enige werknemer, amptenaar, bestuurslid of ander persoon betaal word nie, behalwe wat algemeen as redelik beskou word en met betrekking tot dienste wat gelewer is;

 

6.6 Die bestuur het alle magte wat nodig is om hulle in staat te stel om die SAVN te administreer op ’n wyse wat na hulle mening die voordeligste is vir die uitvoering van die doelstellings van die SAVN. Die bestuur mag bankrekenings open en beleggings van fondse maak en mag ’n verteenwoordiger of verteenwoordigers aanstel om hulle te verteenwoordig vir ’n bepaalde doel, en om bemakings en skenkings van enige aard en van enige persoon of liggaam in ontvangs te neem. Daar word verder bepaal dat die fondse van die SAVN slegs belê sal word by geregistreerde finansiële instellings, soos omskryf in die Wet op Finansiële Instellings, 1984;

 

6.7 Die bestuur sal toesien dat die SAVN geen sakeonderneming of handelsaktiwiteit bedryf nie, en geen fondse sal aan enige persoon uitgekeer word nie behalwe in terme van die uitvoer van die doelstellings, asook die bepalings van die Wet op Organisasies sonder Winsoogmerk, 1997. Die bestuur sal te alle tye redelike stappe doen om te verseker dat enige fondse wat uitbetaal word, aangewend word vir die doel waarvoor dit voorsien is;

 

6.8 Die finansiële jaar van die SAVN eindig op 31 Desember. Die boeke en finansiële state van die SAVN sal jaarliks deur ’n gekwalifiseerde rekenmeester nagesien en opgestel word.

 

7. WYSIGING VAN STATUUT

 

Hierdie statuut kan gewysig word deur die aanvaarding van ’n besluit deur nie minder nie as twee-derdes van lede teenwoordig by ’n algemene jaarvergadering of spesiale vergadering. Lede moet stem oor die voorgestelde wysiging by die vergadering, waarvan ten minste 14 dae skriftelike kennis gegee is. Die voorgenome verandering moet op skrif in die kennisgewing vermeld word en lede moet daarop attent gemaak word dat die voorgenome verandering by die volgende vergadering bespreek sal word.

Kliek hier om terug te gaan na die tuisblad.

bottom of page